|
|
|
|
Roetes - 2006 Foto's en ander inligting oor die plekke wat ons besoek word hier vertoon. Kliek op die roetenaam om na die fotobladsy geneem te word. Reenboogfees: Piet Retief 4x4 Klub Hindernisbaan - 4 November 2006 Gradering: 2-5 Die jaarlikse Reenboogfees op Piet Retief het ook gedien as die amptelike opening van Piet Retief 4x4 Klub se eie hindernisbaan. Die baan is langs die Reenboogfeesterrein geleë in 'n ou steengroef. Ons kon meeste van die hindernisse met baie min moeite bou, aangesien daar reeds baie walle en gate was wat ons net 'n klein bietjie moes 'shape'. Die plan was om die publiek deur die baan te laat ry, en die wat nie hulle eie voertuie het nie, kon saam met lede van die klub deur die baan gaan. Daar was verskeie mense wat hul eie voertuie deur die baan gevat het, en almal het dit vreeslik geniet. Die moddergat was egter almal se tier, en niemand kon dit regkry om op eie stoom anderkant uit te kom nie. Ons kan nie wag om die volgende byeenkoms op ons eie baan te hou nie. Met mense wat sover as Ermelo en Secunda gekom het, was die dag werklik 'n groot sukses. 'n Groot dankie aan ons borge, Roy Slabber Engineering vir die wipplank, KRB Bakkery vir die diesel om die TLB aan die gang te hou, SWC Forestry vir die vrywaringskennisgewingborde, P.W. Mouton BK vir die TLB en E.M. du Plessis vir die vrywaringsvorms. Gradering: 2 Black Rock is een van die strande in die Kosibaai omgewing. Ons het by die Mqobela kamp uitgespan in tente, en die wind het ons behoorlik deurmekaar gewaai. Dit kon egter nie die lekker gees in die kamp demp nie. Inteendeel, daar is oor en weer geterg oor die tente en tafels wat omgewaai het. Daar is nie regtig 'n 4x4 roete nie, alhoewel al die paaie na die verkillende strande toe nie sonder 'n 4x4 aangepak sal kan word nie. Oral is redelike dik en los sand op die paaie, en dit verg partymaal 'n bietjie woema om deur te kom. Ons het Black Rock toe gegaan om te gaan vakansie hou, nie vir die 4x4 uitdaging nie. Dit was definitief die moeite werd. Skurwerante 4x4 - 5 Augustus 2006 Gradering: 2-3 Die pad tussen Piet Retief en Amsterdam lei jou deur Skurwerantjies, 'n reeks klipkoppe waar daar volgens berigte die swaarste weer in Suid-Afrika voorkom. Hier boer Christo en Bouwer van Aardt al vir baie jare op 'n toerisme juweel. Die Hlelorivier het oor duisende jare 'n diep kloof deur die klipkoppe gespoel, en die uitsig in die 'Skurwerant Gorge' is absoluut asemrowend. Die loodregte kranse is ongeveer 70 meter hoog, en die rotsformasies is ongelooflik. Die roete self is nie baie tegnies nie, en die meeste standaard 4x4 voertuie sal die grootste gedeelte van die roete maklik kan baasraak. Ons is op die dag vergesel deur 'n klompie 4x4 entoesiaste uit Ermelo, wat die aantal voertuie op 15 te staan gebring het. Gradering: 2-4 Thangami Safari & Spa is ongeveer 60km van Vryheid in Noord Natal. Daar is 'n natuurlike warmbron, en volgens oorlewering het die Zoeloekoning, Shaka, gereeld in die oog gebad. 'Die Oog' is waar die warm water uit die berg kom, en voorsien ook dan al die swembaddens en jacuzzi's van water. Die 4x4 roete is oor die algemeen baie gangbaar, met een gedeelte teen die berg af waar dit 'n bietjie rof raak. Die kamppersoneel het ons mooi verduidelik dat hierdie gedeelte net in een rigting, berg af, gedoen kan word. Ons het egter die uitdaging aanvaar en nadat ons onder gekom het, het vier van die voertuie omgedraai en die terugtog berg op aangepak. Al vier het bo uitgekom sonder veel moeite. Party mense moet nie 'ge-dare' word nie! Daar is ook 'n hindernisbaan wat vir baie pret gesorg het, en ons glo dat ons ook 'n nuwe hindernis ontdek het op die baan waarvan die personeel nie eers geweet het nie. 'Die Paal' het vir 'n paar sweterige handpalms gesorg (sien foto's). Gradering: 2-3 Holnek is geleë oppad vanaf Amsterdam na die Oshoek grenspos, ongeveer 130km vanaf Piet Retief. Hier het Kobus Visser heelwat 'vlaktewild' soos blou- en swartwildebeeste, blesbokke, elande en volstruise. Die roete is nie geweldig tegnies nie, maar daar is wel 'n paar plekke waar jy jou storie moet ken. Holnek se hoogtepunt is die waterval. Twee strome kom van teenoorgestelde kante en val binne 30 meter van mekaar die kloof in. Die watervalle is beide omtrent 20 meter hoog, en jy kan afklim tot aan die onderpunt om die skouspel gade te slaan. Dan het party van die manne ook van hierdie natuurlike stort gebruik gemaak om die sweet af te was (sien foto's). Aan hulle reaksie kon jy aflei dat die water erg nat was.... Inkunzi 4x4 Uitdaging - 31 Desember 2005 Gradering: 3-5 Omtrent 5 kilometer uit Ermelo op die Chrissiesmeerpad is die Inkunzi 4x4 hindernisbaan van Faan Vosloo. Die baan is met grondverskuiwings masjinerie gebou, en bestaan basies uit twee dele. Die eerste deel, die 'mak' gedeelte van die baan, bevat hindernisse wat sonder veel moeite deur enige standaard 4x4 voertuig gery kan word. Gate, walle, skuinstes en 'twisters' hou die baan interessant sonder om die voertuie te beskadig. Die wipplank gee ook 'n ekstra dimensie aan die baan. Baan nommer twee is die 'extreme' baan, en hier het jy definitief 'n paar modifikasies op jou voertuig nodig, anders gaan jy sekerlik hulp nodig hê om net weer uit die baan uit te kom. Die aanvals- en vertrekhoeke van die hindernisse is baie skerp en dan gaan lê die voertuig sommer vinnig op sy pens bo-op die walle. Hierdie een is nie vir sissies nie! Nhlangamvula - 26 November 2005 Gradering: 2-3 Hierdie was die heel eerste amptelike uitstappie van die Piet Retief 4x4 Klub. Geleë ongeveer 40 kilometer van Piet Retief in die rigting van Wakkerstroom, bied dit 'n ongelooflike uitsig oor Heyshopedam. Ons was kort na goeie reëns daar op die berg, en is ook getrakteer deur 'n waterval wat seker 'n goeie 40 meter na benede stort. Ongelukkig is dit nie 'n standhoudende waterval nie, maar slegs water wat na die reën op die kruin opdam. Die roete is nie baie moelik nie, en daar was selfs groentjies wat die roete aangedurf het. |
Stuur e-pos aan
info@pr4x4.co.za met vrae of opmerkings
oor hierdie webtuiste.
|