Tuisblad
Erekode
Nuus
Program 2011
Lede
Uitstappies 2011
Uitstappies 2010
Uitstappies 2009
Uitstappies 2008
Uitstappies 2007
Uitstappies 2006
Ander Takke
Terugvoer
Skakels

 

 

 


Roetes - 2007

Foto's en ander inligting oor die plekke wat ons besoek word hier vertoon. Kliek op die roetenaam om na die fotobladsy geneem te word.


Nhlangampisi - 24 November 2007

Ons is trots om te sê dat ons fondsinsamelingsuitstappie ten bate van Huis Immergroen baie suksesvol afgeloop het. Ons was 12 voertuie wat net na 9h00 vanaf Sasol in Piet Retief vertrek het. Ons sou baie graag meer nie-lede wou sien saamry, maar die drie nie-lede wat saam was, het dit baie geniet.

Met een oog op die pad en die ander een wat die weer dopgehou het het ons stadig maar seker teen die berg opbeweeg, en kort kort gestop vir foto's en om die bestuurders met minder ondervinding 'n blaaskans te gee.

Aan die suidekant van die berg is daar 'n krater wat lyk asof dit duisende of selfs miljoene jare gelede deur 'n meteoriet veroorsaak kon gewees het. Of dit wel die geval was sal ons leke nie weet nie. Miskien sal ons eendag 'n kundige daar kan kry wat die geheim sal kan ontrafel.

Die natuurskoon op en uitsig bo van die berg af is genoeg om mens in stille verwondering te laat. Dit gee jou opnuut waardering vir die ongelooflike geskenk wat ons Skepper aan ons gegee het. Jy hoef nie eers baie rond te loop om die fynste klein plantjies en blomme te sien nie. Ons het ook 'n paar vingerpolle gesien. Die troppie Rietbokke en die paar Bloukraanvoëls daarby was 'n reuse bonus gewees. Ek wil hier ook dankie sê aan almal wat gesorg het dat hulle in die bestaande pad gebly het. Om in die veld rond te ry terwyl daar so 'n groot verskeidenheid pragtige plante is, sal 'n sonde wees!

Oppad terug het die reën ons gevang, en die manier waarop die swaar wolke saam met die ligte miswolke op en af teen die berge gedans het, was 'n skouspel op sy eie. Ons sal dit waarskynlik nie maklik weer sien nie.

Dit was ons laaste uitstappie vir hierdie jaar. Dankie aan almal wat deelgeneem het aan ons uitstappies, en ook die wat hulle kant gebring het in ons werksaamhede. 'n Geseënde Kersfees word aan almal toegewens. Sien julle volgende jaar!


2007 Reënboogfees 4x4 Uitdaging

Na die aksie – satisfaksie! Nou weet ons wat het die tabakmaatskappy bedoel met hierdie bekende slagspreuk van hulle. 

Die 2007 Reënboogfees 4x4 Uitdaging is agter die rug, en almal wat deel was daarvan is baie moeg, maar baie tevrede. ‘n Reuse dankie aan almal wat gehelp het om die dag ‘n sukses te maak. 

Met 16 deelnemers van Piet Retief, Ermelo, Vryheid, Bethal, Secunda, Johannesburg en Rayton het die dag baie positief begin. Die deelnemers was dit eens dat ons hindernisse baie goed beplan en uitgelê was. Die tegniese uitleg het gemaak dat dit nie te taai op die voertuie was nie, maar vir die bestuurders was dit baie senutergend. Veral by hindernis 8, die ‘Camel Humps’, kon ‘n mens die spanning en konsentrasie op die deelnemers se gesigte duidelik sien. 

Alhoewel daar ‘n paar benoude oomblikke was, en ‘n paar voertuie meganiese probleme ontwikkel het, het almal die baan voltooi, party natuurlik meer suksesvol as ander. Selfs die berugte moddergat was, nadat ons hom effens verander het, darem hierdie keer nie onoorwinlik nie. 

Baie geluk aan die onderskeie klaswenners. Die algehele wenner het slegs 30 punte afgestaan, en in die lig daarvan dat sommige deelnemers meer as 400 punte verloor het, was dit ‘n besondere prestasie.  

Die uitslae was soos volg:  

Klas A:

1e Plek Shaun Kruger & Lynette Nieman Toyota Hilux 30 punte
2e Plek Schalk en René Grobler Toyota Hilux 110 punte
3e Plek Emson McAlister & George Pick Land Rover 200 punte

Klas B:

1e Plek Kobus Visser & Willem Dunn Strange Rover 110 punte
2e Plek Willem de Lange & Rosemarie Kruger Toyota Hilux 120 punte
3e Plek Hardus Joubert & Gerhard Smit Toyota Hilux 150 punte

Klas C:

1e Plek Kobus Kriel & Martin du Preez Rover Pypkar 190 punte
2e Plek Raymond Kruger & Chris Koeleman Toyota Hilux 380 punte
3e Plek Gerhard Smit en Hardus Joubert Toyota Hilux 390 punte

Algehele wenners: Shaun Kruger & Lynette Nieman

‘n Groot dank aan ons borge, en ook almal wat soveel sweet en tyd gegee het vir die voorbereiding en rëelings.

Baie dankie aan

Midway Bande
SupaQuick Piet Retief
Mondi Packaging Piet Retief
Auto House Piet Retief
TWK Toyota
SWC Forestry
P.W. Mouton BK
KRB Bakkery
Roy Slabber
Rudi Brits
Mouton 4x4 & Accessories
Small Torque Hobbies.

Sonder julle sou die byeenkoms nie kon plaasvind nie.


Ponta Malongane - 23-26 Augustus 2007

Gradering: 1-2

So ‘n inval het Mosambiek laas beleef tydens kolonialisering! Veertien voertuie en 38 mense is Donderdag en Vrydag oor die grens na Ponta Malongane.

Donderdagoggend vroeg het ses voertue al in die pad geval, en dit het voor die wind gegaan tot by die grens. Nie eers die stukkie slaggatpad tussen Jozini en Kosibaai kon ons spoed breek nie. Maar toe kom die grenspos en die pad hou op! As jy deur die grenspos is, verander die mooi teerpad in ‘n tweespoor sandpaadjie. Darem kan ons sê dat ons wel 4x4 gery het, al het Bossie met sy tweewieldryf Hilux bygehou tot by die see. Die res van die mense het Vrydag in twee groepe gearriveer.

Die kampterrein laat jou dink dat jy in die hartjie van die oerwoud is. Daar is nie een kampplek wat nie ‘n blaredak het nie. Vrydagaand moes dit redelik hard reen voordat ons begin nat word het. Alhoewel die strand ongeveer 20 meter weg is van die naaste kampplekke, kan jy nie een van die kamplekke van die see se kant af sien nie, dit is heeltemal weggesteek.

Die weer was nie heeltemal gunstig vir swem en snorkel nie, en ons kon eers Sondagoggend regtig die son ‘n bietjie geniet. Ons was egter glad nie verveeld nie. Met Kobus en Adam wat al verskeie keer daar was, het ons twee gesoute gidse gehad wat ons op en af teen die kus laat ry en al die mooi kampterreine en asemrowende uitsigpunte laat beleef het.

Saterdagaand het ons by een van die seekosrestaurante on Ponta d’Ouro gaan eet, en soveel kreef, garnale en kalamari het jy lanklaas bymekaar gesien. Veral die kreef was smullekker, en almal het maar versigtig opgestaan toe dit rytyd gword het. Daar was ook ‘n paar brawes wat elkeen ‘n plastiek goudvisbak aangevat het, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. En waar het jy al gehoor van ystee wat R53 ‘n glas kos?! Goed, dit was ‘n groot glas, maar R53! Daar moet seker iets spesiaal daaraan wees……

Dit was lekker. Ondanks die bewolkte weer en die ongeduldige wind het ons dit baie geniet. Ek glo dat enigeen wat dit nie geniet het nie, uit sy pad gegaan het om die lekker te ignoreer. Hoeveel keer gebeur dit dat jy in die water dryf en kan sien hoe ‘n skool kolsterte aan ‘n stuk visaas smul, en dit minder as ‘n meter van jou af? Of dat ‘n nagapie ‘n paar tree van jou af ‘n stukkie brood van die tafel af kom haal? Of ‘n helderblou skoenlapper wat so met droë blare saamsmelt dat jy hom nie kan sien nie?

Baie dankie aan almal wat saam was. Julle gedrag was onberispelik. Julle het ons naam hoog gehou hierdie naweek! Ek kan nie wag vir ons volgende wegbreek nie.
 

Swafari: 30 Junie 2007

Gradering: 1-3

Gerhard en Doranda Potgieter het ons genooi om 'n dag op hulle familieplaas in Swaziland te kom spandeer. En wat 'n dag was dit nie! Op die pad vanaf Nhlangano in 'n suidelike rigting, in die berge, lê die Potgieters se eie stukkie paradys.

Ons groep het met 8 voertuie hier vertrek, en in Nhlangano het ons vir Gert en Ewald en hulle gesinne van die Swazi 4x4 Klub ontmoet. By die plaas aangekom, is ons verwelkom deur Gerhard se regterhand op die plaas, 'n ou Swazi vrou wat al donkiejare op die plaas bly. Nadat sy vir ons 'n gebed in Zoeloe gedoen het, is ons die berg uit.

Die roete is nie geweldig moeilik nie, maar die uitsig is uit 'n sprokiesboek. Jy kan vir baie kilometers ver sien. Ons kon tot die Itsjelejuba hospitaal sien, op die pad tussen Piet Retief  en Pongola.

Die kampeerterrein was byna voltooi tydens ons besoek, en Gerhard wag nou vir bruikbare dekgras om die dakke te voltooi. Die ablusieblok en lapa is andersins reeds klaar, en wag nou net vir die dakke. Daar is tot warm water om in te stort, en dit bo-op die berg, in die middel van nêrens!

Ons het die roete gery, en ek moet sê dat die spruit teen die berg af met sy watervalletjies het ons in verwondering gelaat. Jy kan vêr in die spruit oploop, en dit skep amper 'n tropiese atmosfeer met die kristalhelder water wat teen die klippe afkabbel. Gerhard en sy gesin is werklik geseën met hierdie stukkie Eden op hulle grond.

Die dag is afgesluit met 'n speenvark wat op die spit gebraai is, en ons almal is moeg maar gelukkig terug huis toe. Dankie, Gerhard en Doranda, dit is sekerlik nie die laaste keer wat ons by julle gaan kuier nie!


Swaziland Regularity Raid: 27-29 April 2007

Gradering: 1-3

'n Groot naam vir 'n sak vol pret! Die Swaziland 4x4 Klub reël sedert 1996 elke jaar die Swaziland Reularity Raid. Dit vind plaas oor drie dae in die berge en valleie rondom die prentjie-mooi dorp Ezulwini, minder as 100 kilometer van Piet Retief af. Ses gesinne van die Piet Retief 4x4 Klub het hierdie jaar deelgeneem aan die Swazi Reg Raid 2007. Die Stephansens se Isuzu was hierdie keer die verdwaalde skapie in 'n Toyota trop. Dawie de Bruin en Ezeré du Plessis het op Hiluxe staatgemaak, terwyl Gerhard Victor, Pierre Mouton en Paul Mouton die naweek in Land Cruisers aangepak het. Alwyn en Maryna Kruger was welkome nuwelinge, alhoewel hulle saam met Lecia 'n navigator rol vir Dawie gespeel het.

Die omgewing waarin die roetes geleë is, laat jou partykeer dink jy is in die hartjie van die Wes-Kaap, met berge en valleie wat ons keer op keer laat vergeet het ons is met 'n 'wedren' besig. Op menige plekke moes ons eenvoudig stop om foto's te neem. Soveel natuurskoon hier op ons eie voorstoep het ons nie verwag nie. Dit was soos tonele uit 'n sprokiesboek!

Die naweek bestaan uit drie 'dele'. Vrydagmiddag en -aand is 'scrutineering' tyd; die voertuie word deur beamptes ondersoek om seker te maak dat dit padwaardig is, en dat die nodige noodtoerusting in plek is. Gedurende Saterdag en Sondag word twee verskillende roetes gery, beide ongeveer 150 kilometer ver. Albei roetes het meer as sewe ure geneem om te voltooi, dus teen 'n gemiddelde spoed van net meer as 20 km/h!

Vooraf ontvang elke span 'n roeteskedule, wat presiese roete-aanduidings verskaf, asook die gemiddelde spoed wat gehandhaaf behoort te word. Dit wissel tussen meer as 70 km/h op teer tot so laag as 5 km/h op die meer uitdagende dele. Op die roetes is 'n aantal beamptes geplaas, en elke span moet probeer om so na as moontlik aan 'n spesifieke tyd by elke beampte te wees. Die probleem is egter dat jy nie weet waar die beamptes is of wat die spesifieke tyd is nie! Strafpunte word toegeken vir elke 6 sekondes wat jy vroeg of laat by die punte aandoen, en die wenner is dan die span met die minste punte teen hulle.

Ons kan met trots sê dat ons Klublede drie top 20 plekke (13, 15 en 16) losgery het uit 'n totaal van 65 inskrywings. En dit met ons eerste probeerslag! Vir 2008 gaan ons ook poog om ten minste een damespan in te skryf. Daar is pryse te wen vir damespanne ook, en hierdie jaar was daar geen inskrywings in daardie kategorie nie.

'n Groot dankie aan die Swaziland 4x4 Klub se lede wat 'n fenominale naweek georganiseer het. Ons kan maar net raai hoeveel sweet agter die beplanning en uitvoering van so groot byeenkoms lê. Welgedaan! Ons kan nie wag vir die Swaziland Regularity Raid 2008 nie!


Drie Provinsies 4x4 Avonture - 24 Februarie 2007

Gradering: 2-5

Ongetwyfeld die mooiste en sekerlik die mees uitdagende roete wat ons nog deur die Klub aangepak het. Veertien kilometer uit Volksrust op die Vrede pad lê die Drie Provinsies 4x4 roete van Herman en Ronel Geldenhuys. Met ongelooflike natuurskoon, ordentlike 4x4 uitdagings en lieflike kampplek is dit verseker 'n plek wat gereeld besoek kan word. Daar is ook verskeie roetes wat gery kan word, maar Helshoogte is definitief 'n moet vir enige 4x4 entoesias wat van uitdagings hou.

Nadat 'n klein groepie van ons in Desember 2006 daar was, het ons besluit om 'n klub uitstappie in Februarie te reel. Ongelukkig kon die meeste van ons lede nie die geleentheid bywoon nie, tot hulle eie verlies. In Desember 2006 was die Pretoriuse, du Plessis' en Moutons daar, en in Februarie is die Moutons en du Plessis' vergesel deur 'n nuwe lid, Johann Liebenberg in sy Land Rover Discovery. Wat 'n vuurdoop was dit nie vir Johann nie. Sy eerste 4x4 uitstappie, en hy loop in Helshoogte vas! Johann het hom egter goed van sy taak gekwyt, en na heelwat sweet en stof is hy bo uit.

Die mooiste gedeelte is ongetwyfeld die plek waar die roete sy naam kry. Hier grens die ou Transvaal, Vrystaat en Natal op een enkele punt, en omtrent 'n honderd meter van dié baken af is Langkrans. Met 'n regaf val van omtrent 200 meter en 'n uitsig van honderde kilometer is dit absoluut ongelooflik. Die foto's wat ons van daar af geneem het, lyk asof dit lugfoto's vanuit 'n vliegtuig is.

Dankie aan Herman en Ronel wat heelwat moeite vir ons gedoen het. Ek glo dat dit nie ons laaste besoek aan Drie Provinsies was nie.


Skurwerante 4x4 - 27 Januarie 2007

Gradering: 2-3

Die pad tussen Piet Retief en Amsterdam lei jou deur Skurwerantjies, 'n reeks klipkoppe waar daar volgens berigte die swaarste weer in Suid-Afrika voorkom. Hier boer Christo en Bouwer van Aardt al vir baie jare op 'n toerisme juweel. Die Hlelorivier het oor duisende jare 'n diep kloof deur die klipkoppe gespoel, en die uitsig in die 'Skurwerant Gorge' is absoluut asemrowend. Die loodregte kranse is ongeveer 70 meter hoog, en die rotsformasies is ongelooflik.

Die roete self is nie baie tegnies nie, en die meeste standaard 4x4 voertuie sal die grootste gedeelte van die roete maklik kan baasraak.

Ons was in Augustus 2006 ook by die Skurwerante 4x4 roete (kliek hier vir foto's), maar die winter en veldbrande was nie baie goed vir die veld nie. Ons kon nie wag om te sien hoe dit nou lyk na die goeie reën in Desember nie. Ons was nie teleurgestel nie.


Stuur e-pos aan info@pr4x4.co.za met vrae of opmerkings oor hierdie webtuiste.
Kopiereg © 2011 FWDCSA - Piet Retief
Laaste veranderings: 12/09/2011