Tuisblad
Erekode
Nuus
Program 2011
Lede
Uitstappies 2011
Uitstappies 2010
Uitstappies 2009
Uitstappies 2008
Uitstappies 2007
Uitstappies 2006
Ander Takke
Terugvoer
Skakels

 

 

 


Roetes - 2008

Foto's en ander inligting oor die plekke wat ons besoek word hier vertoon. Kliek op die roetenaam om na die fotobladsy geneem te word.


Baboons Pass, Lesotho – 13-15 Desember 2008 

Verslag deur Jeanne Slabber 

Groot was die opwinding toe ons die oggend van 12 Desember 2008 almal in gelid die saamtrek “Baboons Pass” toe kon aanpak.  Die geselskap het bestaan uit vier Land Cruisers: Roy Slabber met sy 75 series, Pierre Mouton met sy 105 GX, Milton Slabber met sy 79 series en Gerrit Victor met sy 80 GX. Almal is lede van die FWDCSA – Piet Retief. 

By Ficksburg aangekom, was Lesotho letterlik net anderkant die draad, alhoewel dit ons meer as 3 ure gevat het om anderkant daardie draad (grenspos) te kom.  Ons sal die verlore tyd toeskryf aan ‘n ‘blonde oomblik’ waar van die geselskap se paspoorte per ongeluk tuis gelaat is. Dit was egter ‘n gulde geleentheid om ‘n blaaskansie onder ‘n boom te vat en lekker te gesels oor wat vir ons voorlê. 

In Lesotho aangekom was ons verstom oor die mooi berge en groen velde, maar min het ons geweet hoe daai groot klippe en modder op “Baboons Pass” lyk. Ons het Vrydagaand oornag in ‘n Lodge in Roma. 

Saterdagoggend was almal 5uur op! Die mans was maar stil en het almal nog ‘n laaste keer om hulle Cruisers geloop, terwyl die vrouens lekker gesels het met ‘n beker koffie in die een hand, en ‘n kamera in die ander hand. Ons was reg vir die dag! 

Ons het omstreeks 7h00 die pas ingery, en sommer met die intrapslag gesien hier kom ‘n ding, ‘n groot ding wat mens ‘n klip noem. Op een rots het gestaan “BABOONS, TERRIBLE SHIT”. Kon dit rêrig so erg wees? Die antwoord was beslis ja, want vir die volgende 10 uur en 40 minute was dit die een hindernis na die ander, sommige minder moeilik, maar almal beslis ‘n uitdaging. 

Omstreek 12h00 het ons verby die skool gery. Die skool is juis die rede vir die pas, aangesien dit die enigste pad is na die skool. Oral om ons was vuil kindergesiggies wat frons of bedel. Die kindertjies kon nie verstaan hoekom ons dan hierdie mooi voertuie hier op ry as dit eintlik ‘n pad is vir donkies nie. 

Die pas is beslis ook ‘n uitdaging vir enige verhouding, aangesien mens se uithouvermoë en geduld tot die uiterste beproef word. Soms was dit maar nodig vir die vrouens om liewers uit die voertuie te klim, want daar was ‘n paar benoude oomblikke waar die voertuie se wiele hoog in die lug gehang het. Gelukkig het die weer saam gespeel en het ons ‘n lekker sonskyndag gehad, wat die pad makliker gemaak het. 

Al vier Cruisers het gewys waartoe hulle in staat is. Sommige van die voertuie het hier en daar ‘n krappie of ‘n duikie opgedoen, wat sy eienaar altyd sal herinner aan hierdie besondere dag. Die hele roete is 22km lank, wat ons voltooi het in 10 uur en 40 minute. As mens eers in die pas is, is daar geen omdraai kans nie, daar is net een pad en dis ander kant uit! 

Net voor skemer het ons die laaste hindernis aangepak, en dit was ‘n absolute “priceless moment” om die einde van die pas te kon sien. Ons het die dag afgesluit met ‘n braai, waar almal lekker kon gesels oor die dag se avontuur.


Reënboogfees 4x4 Uitdaging – 8 November 2008 

Oupa het altyd die radio afgeskakel wanneer die weervoorspelling uitgesaai is. "Daardie mense weet nie waarvan hulle praat nie. Hulle mors my tyd," het hy sy misnoë te kenne gegee. Die weerburo se voorspelling vir Piet Retief vir 8 November 2008 was "80% kans op swaar neerslae". Hulle het selfs Piet Retief op die naam genoem en 'n waarskuwing gelig dat ons vir alle praktiese doeleindes maar solank moet begin ark bou.

En toe reën dit nie....

Van die 14 deelnemers wat bevestig het dat hulle kom, daag daar Saterdagoggend toe net 5 op. Hulle het egter verseker dat die toeskouers die dag baie geniet het. Die drie klasse was soos volg saamgestel:

Klas A:
Vanaf Ermelo het Jan en Jan met hulle pypkar gewys dat 'n mens net jou twee regterwiele nodig het om teen 'n 40º helling te kan uitry.
PJ en Adam met Adam se Willys CJ7 was van Vryheid af. Dit was beide se vuurdoop.

Klas B:
Hardus en Douwlien het hulle Hilux 2.8D van Bethal af gebring. Dit was Douwlien se eerste kennismaking met hindernisse.
Die Louwrens broers met hulle Hilux KZ-TE was ook van Vryheid af. Die koel weer kon nie hulle geesdrif demp nie.

Klas C:
Die enigste deelnemer in klas C was Gerhard, al die pad van Secunda af. Hy het gedemonstreer dat goeie tegniek die afwesigheid van "lockers" in 'n groot mate kan oorkom.

Die min inskrywings het ons laat besluit om die verloop van die byeenkoms effens te verander, en in plaas daarvan dat die verskillende klasse afsonderlik deur die baan beweeg, het ons almal saam in een groep laat ry. Die deelnemers het ook ingestem dat drie van Piet Retief se lede saam kon ry. Omdat Pierre, Jaco en Milton die baan reeds goed ken, het hulle natuurlik nie deelgeneem aan die kompetisie nie, en deurentyds die agterhoede gedek.

Die dag het baie suksesvol verloop, met geen meganiese of ander probleme nie. Jan-hulle het die pypkar op 'n stadium op die onmoontlikste plek op sy twee regterwiele rondgery, maar goeie voetwerk het gesorg dat die monster sonder enige strafpunte die hindernis voltooi het. Ook het Gerhard gesorg vir 'n paar kortasem-oomblikke toe hy sy Hilux teen 'n baie benoude helling laat beland het. 'n Terugrol later was hy egter weer volstoom aan die vorentoe beur.

Nodeloos om te sê was daar geen 'verloorders' nie, en as gevolg van die min inskrywings, het niemand slegter gevaar as 'n tweede plek nie. Lekker om aan so 'n kompetisie deel te neem! Die eerste plek pryse was ter waarde van amper R1500 vir die bestuurder en navigator. In Klas A het Jan en Jan in die pypkar met die louere wegestap. In Klas B is Hardus en Douwlien gekroon as die wenners, en Gerhard het geen teëstand gehad in Klas C nie.

'n Groot dankie aan al die borge wat hierdie dag moontlik gemaak het: Midway Bande, SupaQuick Piet Retief, Bridgestone, Mondi Piet Retief, SWC Forestry, Lydenburg 4x4 & Outdoor Centre, P.W. Mouton BK, Rudi Brits,

Dan ook 'n reuse dankie aan die lede van die FWDCSA - Piet Retief en hulle wederhelftes wat baie hard gewerk het voor en tydens die byeenkoms. Sonder julle almal sou hierdie byeenkoms nie moontlik gewees het nie. Julle was fenominaal.


Roodedraai Slagveldroete – 27 September 2008 

‘n Roete met ‘n verskil. Verseker was hierdie een van die mees interessante en uitstaande uitstappies wat ons nog gehad het.  

Gereël deur die Gautengtak van die FWDCSA, het ons die naweek op die plaas van Herman en Ronel Geldenhuys, anderkant Volksrust, deurgebring. Dieselfde plaas waar die beroemde Drie Provinsies roete gevind kan word wat ons al talle kere besoek het.

 Die hoogtepunt van die naweek was egter die Roodedraai Slagveldroete, wat ons Saterdag aangepak het. Die rustige roete begin by die Geldehuys opstal, en kronkel dan oor hulle plaas, asook ‘n buurman se grond. By die buurman se opstal wag Gert van der Westhuizen ons toe in. Hy is ‘n ware wandelende ensiklopedie oor die Anglo-Boereoorlog. Van hier af was dit al die pad gewone grondpad gewees, maar niemand het gekla nie. Gert se kleurvolle vertellings oor gebeure uit ons ryke geskiedenis het almal aan sy lippe laat hang.

 Ons het die tonele van verskillende veldslae besoek, en Gert het ons presies verduidelik wat daar gebeur het. Dit was ‘n rare gevoel om as’t ware die toneel in jou geestesoog te sien plaasvind. Die graf van Genl. Piet Joubert en sy vrou was ook op die program. Die verhaal van die Skot wat hierdie ongelooflike sarkofaag gebou het, is verstommend. Dan het ons ook die grot besoek waar ‘n aantal vroue en kinders tydens die oorlog maande lank vir die Britse magte weggekruip het.

 Die einde van die roete het ons by Gert se huis en museum gebring. Ongelooflik! Nadat ons tuisgebakte brood, konfyt en ander gebak vir middagete genuttig het, het Gert ons sy museum ingevat. Hierdie is ‘n historiese skat wat hopelik nog lank vir die nageslag bewaar sal bly. Van oorblyfsels van die Lady Grey kanon tot oorspronklike dokumente en aktes, toerusting, gereedskap en geskrifte, vertel hierdie verstommende plek ons die verhaal van die swaarkry en die vreugde wat ons voorouers meer as ‘n eeu terug moes ervaar. As ons maar net meer tyd gehad het. Daar is nog so baie om te sien en te hoor, maar die donker het begin toesak en ons moes terug kamp toe.

 Sondagoggend het ons na ontbyt ‘n nuwe roete gery wat Herman ontwikkel het. Lekker uitdagend, maar nie ‘n voertuigbreker nie. Van daar af was dit Langkrans toe, net om gou weer ‘n paar ‘lugfotos’ te gaan neem. As ‘n bonus kom ons ook op ‘n paar Bloukraanvoëls af wat daar naby broei, en kon ook een van die Witkruisarende sien wat ons uit die hoogte dopgehou het.

 Dankie Herman, Ronel, Gert en FWDCSA, Gauteng se mense wat die reëlings getref het. Dit was ‘n uitstaande naweek. Wanneer gaan ons weer?


Swaziland Regularity Raid - 26 & 27 April 2008

Gradering: 2-3

Die Swazi Reg Raid bly maar 'n hoogtepunt op ons kalender, en die wat al daar was, sal presies weet hoekom. Dat twee dae se intense kompetisie soveel pret kan wees, is moeilik om te verduidelik.

Hier van Piet Retief af het ons opgeruk met vyf voertuie. Dawie en gesin, asook Henk en gesin het Vrydag-oggend vroeg al vertrek om vir ons staanplek te gaan kry. Glo dit maar, teen Vrydagaand was daar skaars plek vir 'n Uno, so om met 'n 4x4 te gaan kampplek soek in die donker sou 'n onbegonne taak wees.

Die amptelike verrigtinge het Vrydagmiddag begin met die 'scrutineering'.  Al die voertuie moes aan sekere veiligheidsvoorwaardes voldoen voordat hulle toegelaat is om deel te neem. Ons het geen probleme ondervind nie, en kon uitsien na die wegspring.

Saterdagoggend het Paul, Dawie, Henk en Casper en hulle navigators net na 6h00 op 'n streep weggespring. Deelnemers vertrek twee en 'n half minute uitmekaar. Nic, wat heelwat later geregistreer het, het ook dan nader aan 7h00 weggespring. Dag 1 het nie die voertuie baie beproef nie, alhoewel daar 'n spesifieke sandwal na 'n rivierkruising was wat veroorsaak het dat daardie hele afdeling van die roete geskraap is. Net die voorste paar voertuie kon daar op, toe die eerste ou begin 'spin' en gate grou, was dit neusie verby, en geen voertuig kon verder daar verby nie. Die res van die roete het gekonsentreer op navigasie.

Dag 2 was heelwat meer uitdagend vir bestuurder en voertuig, met heelwat meer water en modder op die roete. Die wegspringposisies vir dag 2 is die omgekeerde van dag 1, en ons almal, behalwe Nic, het heel agter in die ry gestaan. Dit was natuurlik tot ons nadeel, soos wat ons in afdeling 2 van die roete moes uitvind. Die klomp voertuie voor ons het al die moddergate en rivierkruisings al vrot getrap, en ons het meer as 20 minute verloor agter voertuie wat vasgesit het. Was dit nie hiervoor gewees nie, sou Paul en Bester in die top 5 en Dawie en Dawie Jnr in die top 10 geeindig het. Met ons tye haarfyn uitgewerk was dit maklik om die regte pas te handhaaf. Dawie-hulle was so akkuraat, dat hulle slegs 2 sekondes uit was in die laaste afdeling. Nogal spoggerig van hulle gewees!

Maandagoggend het ons maar met lang gesigte opgepak. Ek is seker daarvan dat nie een van die deelnemers sou omgee as daar nog 'n derde kompetisie dag ook was nie. Almal was voor middagete terug by die huis, en het reeds begin navraag doen oor die inskrywings vir die 2009 Swaziland Reg Raid.

'n Klop op die skouer vir die Swaziland tak van die FWDCSA, wat hierdie reuse byeenkoms aanbied. Hulle is maar 'n handjievol mense wat die organisering behartig, en alles is baie professioneel gedoen en het seepglad verloop. Jan, Philip, Gert, Gavin en die ander manne en dames wie se name my ontgaan, baie dankie vir julle byna onmenslike poging. Ons sien geweldig uit na 2009. Daar is reeds 'n klomp inskrywings van Piet Retief se kant af in die pos!


Drie Provinsies - 29 Maart 2008

Gradering: 2-4

"Ek kon nooit verstaan hoekom julle so behep is met Drie Provinsies nie. Nou weet ek!" Uit die mond van een van ons klublede wat vir die eerste keer die voorreg gehad het om die asemrowende uitsig te beleef.

 Volksrust. 'n Dorpie wat ryk is aan geskiedkundige plekke en gebeure wat dateer uit die Anglo-Boere oorlog, maar nie regtig alombekend is in die 4x4 kringe nie. Tog het die 4x4 en buitelewe tydskrif, Drive Out, die Drie Provinsies 4x4 roete onder hulle top 10 roetes in Suid-Afrika geklassifiseer. En ons weet hoekom.....

Op Saterdag, 29 Maart, het 19 van ons, en 4 gaste, met 9 voertuie vertrek na Herman en Ronell Geldenhuys se klein paradys anderkant Volksrust. Nadat ons deur ons vriendelike gasheer en vrou ontvang is, het ons die roete aangepak. Onlangse goeie reën het gesorg dat Moeder Natuur ons in n grasgroen kleed verwelkom het.

Alhoewel die grootste gedeelte van die roete nie regtig n hardebaard 4x4 benodig nie, is daar n hele paar gedeeltes wat gesorg het dat die adrenalien vrylik deur ons are gevloei het. Die trappe na die ampfiteater en waterval was die eerste werklike uitdaging. Van die groener lede het eers die kat goed uit die boom gekyk, maar het die toets met vlieënde vaandels geslaag. Dit was egter die moeite werd, want na die onlangse reën het die 20 meter hoë waterval sterk na benede getuimel.

Die enigste ander groot uitdaging was die befaamde Helshoogte. Die reën het hier egter ook n groot uitwerking gehad, en die roete het hier sleg verspoel. Nadat die twee Cruisers albei beide lockers nodig gehad het om sukkel-sukkel bo uit te kom, het ons besluit dat die res van die konfooi eerder die ompad moet vat omdat hierdie deel van die roete nie 100% veilig is in sy huidige gedaante nie.

Die hoogtepunt was weereens Langkrans, by die baken wat die ontmoetingspunt van Mpumalanga, Kwazulu-Natal en die Vrystaat aandui. Met die twee witkruisarende wat n wakende oog oor ons gehou het, was ons stomgeslaan oor die onbeskryflike uitsig. Dit lyk amper asof jy by die einde van die aarde gekom het, met die regaf val van minstens 200 meter. Fotos wat van hieraf geneem is, lyk asof dit uit n vliegtuig was. Ongelooflik!

Baie dankie aan Herman en Ronell vir hulle gasvryheid, en dankie aan almal wat saam was. Julle het, soos gewoonlik, onberispelik opgetree en ons klub se naam hoog gehou. Ons gaste en gashere het met lof oor ons gedrag gepraat.


Attakwaskloof Ossewaroete, Bonniedale - 14 Maart 2008

Gradering: 2-3

Die FWDCSA se algemene jaarvergadering het plaasgevind op 15 Maart 2008 in George. Ons gashere van die Tuinroetetak het ons laat bene rek op die Attakwaskloof Ossewaroete by Bonniedale.

Geleë in die skouspelagtige Swartberge, naby Mosselbaai, is hierdie roete die einste een wat deur Simon van der Stel laat 'ontwikkel' is as 'n deurpad na die Klein-Karoo. Volgens oorlewering het die ossewaens sewe dae geneem om deur die Attakwaskloof te beweeg. Dit is dieselfde roete waarmee ons net na middagete klaargespeel het!

Die Swartberge was prentjiemooi, en met die groot verskeidenheid fynbos en proteas was dit vir ons Valies weer 'n lus vir die oog. Ben Schoeman, voorsitter van die Tuinroetetak, het ook vir ons 'n baie interessante lesing gegee oor die geskiedenis van die Attakwaskloof, en die ossewaroete. Die 'ou mense' het darem vir geen duiwel gestuit nie......

Baie dankie aan Ben en Johan vir die beskikbaarstelling van hulle voertuie, en vir julle vriendelike gasvryheid. Dis jammer dat ons nie langer daarvan kon gebruik maak nie, dit was verseker baie aangenaam.


Zendelingspos - 5 Januarie 2008

Gradering: 5

Daar skop die jaar sommer half onverwags af met 'n skielike uitstappie na die berugte Zendelingspos. Geleë in die Luneburg omgewing wes van Piet Retief bied hierdie kort, maar kragtige roete seker die grootste uitdaging van al die roetes wat ons tot dusver gery het.

Op kort kennisgewing daag daar 11 voertuie op, waarvan slegs 5 (twee 'ou' Hilux bakkies, 'n Land Cruiser bakkie en twee SVM jeeps) uiteindelik die roete aangepak het. Twee ander Hilux bakkies se eienaars het besluit om eerder nie hulle voertuie se 'gesondheid' op die spel te plaas nie, en hulle het die voertuie by die begin van die roete gelos. Bogemiddelde grondvry hoogte, ewenaarslotte en bande is uiters nodig om hierdie roete baas te raak.

Wat die roete so moeilik maak is die feit dat die hele pad uit klippe bestaan, met groottes wat wissel tussen tennisbal grootte tot rotse van meer as 'n meter in deursnee. Daar is uiters min plekke waar daar 'n stukkie grond tussen die klippe bespeur kan word. Milton se Cruiser het selfs die linkeragterwiel se band van die velling afgedruk, en ons het 'n redelike interessante 'reddingsoperasie' daar teen die berg geloods. Gelukkig het die nuwe Cooper STT nie enige skade opgedoen nie.

Met ons eerste uitstappie wat so 'n groot sukses was, hou die res van die jaar groot belofte in. Kan nie wag nie....


Stuur e-pos aan info@pr4x4.co.za met vrae of opmerkings oor hierdie webtuiste.
Kopiereg © 2011 FWDCSA - Piet Retief
Laaste veranderings: 12/09/2011