Tuisblad
Erekode
Nuus
Program 2011
Lede
Uitstappies 2011
Uitstappies 2010
Uitstappies 2009
Uitstappies 2008
Uitstappies 2007
Uitstappies 2006
Ander Takke
Terugvoer
Skakels

 

 

 


Roetes - 2009

Foto's en ander inligting oor die plekke wat ons besoek word hier vertoon. Kliek op die roetenaam om na die fotobladsy geneem te word.


Swaziland Regularity Raid - 24-27 April 2009

Die lekker wil net nie ophou nie! Vir die derde agtereenvolgende jaar het ons die "Swazi Reg Raid" bygewoon, en dit was self beter as die vorige twee keer.

Nadat verlede jaar se hoofborg, Total, op die laaste nippertjie hulle borgskap onttrek het, was die 2009 byeenkoms vir 'n ruk lank in die weegskaal. Nadat die organiseerders dae en nagte lank na borge gesoek het, het hulle daarin geslaag om genoeg borge te bekom om die byeenkoms te laat voortgaan.

Ons klub deelname was teleurstellend, met slegs sewe van ons lede wat met vier voertuie deelgeneem het. Dawie, Dawie Jnr en Karel het met Dawie se Hilux gery, Pierre het met sy Cruiser gery met Faans as navigator, die Stephansen gesin was op hulle pos in die getroue silwer Isuzu, en Paul en Bester was daar in 'n Hilux.

Weereens het ons goed gevaar, en met trotse uitslae huistoe gekom. Uit amper 60 deelnemers het Paul en Bester die sewende plek algeheel losgery, met die De Bruins kort op hulle hakke in die agtste plek. Pierre en Faans leer nog, en die Stephansens het op dag 1 'n klein navigasie foutjie gemaak, wat hulle ook heelwat tyd gekos het. Let ook daarop dat die eerste ses plekke behaal is met behulp van skootrekenaars wat die tye haarfyn uitgewerk het, en dat nie een van ons daardie luuksheid gehad het nie. Voorwaar nie sleg nie!

Dag 1 was meer gemik op die navigator, en het nie baie moelike bestuursuitdagings gebied nie. Die gebied waardeur ons beweeg het, was egter baie mooi, en die 130 kilometer wat ons in ongeveer 7 ure afgelê het, het voorwaar pragtige natuurskoon opgedis. Ons het op 'n stadium ook deur 'n natuurreservaat beweeg, en wild soos rooibokke, koedoes en njalas opgemerk.

Die tweede dag se roete het ons noord van Ezulwini geneem, en het 'n bietjie meer van die bestuurder geverg met interessante rotswande en rivierkruisings wat oor ons weg gekom het. Die natuurskoon was selfs nog mooier as op die eerste dag, en plek-plek het die uitsig ons laat vergeet dat ons met 'n 'wedren' besig was.

Die gegewe snelhede waarteen ons moes ry het deurentyd verander, partymaal sommer binne sekondes, en ons moes probeer om so na as moontlik aan die 'ideale' tyd by die verskillende beheerpunte te wees. Vroeg of laat het jou dan strafpunte in diesak gebring. Ongelukkig was daar 'n sekere span wat waarskynlik die rëels verkeerd verstaan het, want hulle het gejaag asof daar geen more gaan wees nie. Die Jeep Wrangler het dan ook gou die aftog geblaas met 'n  stukkende dryfas. Niemand was verbaas nie......

Dankie aan Jan, Philip, Gert en al die ander Swazi Klublede en hulle gesinne wat onder moeilike omstandighede en met baie min tyd tot hulle beskikking vir ons 'n uitstaande byeenkoms gereël het. Dit het gelyk asof julle maande lank tyd gehad het om dit te doen. Reserveer asseblief ons plekke vir Reg Raid 2010!


Stuur e-pos aan info@pr4x4.co.za met vrae of opmerkings oor hierdie webtuiste.
Kopiereg © 2011 FWDCSA - Piet Retief
Laaste veranderings: 12/09/2011