|
|
|
|
Roetes - 2010 Foto's en ander inligting oor die plekke wat ons besoek word hier vertoon. Kliek op die roetenaam om na die fotobladsy geneem te word. BABOONS PASS LESOTHO 19-21MAART 2010 Deur Jeanne Slabber Na ‘n redelike lang nag van laaste voorbereidings wat aan voertuie gedoen moes word, is ons net na 5 uur op 19 Maart 2010 oppad Lesotho toe. Vir Pierre en Julie Mouton met hulle 105GX was dit die tweede keer dat hulle die berugte pas sou aandurf, terwyl dit die derde keer was vir my en Milton met die EFI 4500. Ons het tot in Bethlehem gery waar ons by die res van die konvooi van 9 Land Cruisers aangesluit het, almal lede van die LCCSA. Die konvooi van Cruisers het gewissel van 76 en 79 tot 80 en 100 Series voertue, elkeen presies gemaak en aangepas soos wat sy eienaar dit verkies. Na ’n lekker ontbyt met so bietjie “ken mekaar”, het ons in gelid weer die pad aangevat tot by die Pekabrug Grenspos. Dit was ’n besige Vrydag middag in Lesotho en vinnig kon ons nie ry nie. Ons het net voor donker by ons kampplek in Ramabantha aangekom, en gou het almal tente opgeslaan terwyl dit nog lig was. Daar is ’n lekker groot vuur aangesteek en almal het gesellig om die gloeiende kole gekuier. Die volgende oggend is almal vroeg wakker, en so saam met die sonsopkoms kon mens die pas mooi teen die berg sien. Ek glo nie eers vir die derde keer is mens werklik voorbereid vir wat voorlê nie. Elke keer is ’n nuwe ondervinding. Die vrouens het almal gou vir die laaste keer ’n warm stort gaan vat, want in die pas is daar glad nie sulke luukse geriewe nie. Toe ons so 8 uur die oggend die pas inry, was dit die perfekte dag, droog en lekker warm. Milton en Pierre het die voortou geneem. Soos ons al geleer het maak die pas nes hy wil, wanneer hy wil, en binne twee ure het dit koud geword en hard gereën. Dit het dinge ‘n bietjie moeiliker gemaak vir die bestuurders aangesien die pas die afgelope jaar al baie reën gehad het en die meeste van die grond al weg gespoel was. Die baie klippe was nat en baie glad! Terwyl die mans mekaar probeer help het om verby die groot klippe en diep gate te ry, het die vrouens lekker van klip tot klip gekuier, elkeen met ’n kamera in die hand opsoek na die “ultimate foto” van die perfekte “axle twist”...... Later die dag het ons verby die skool gery en kon ons vir die kindertjies baie skool benodighede uitdeel, wat geskenk was deur verskeie instansies. Dit was lekker om te sien dat die kindertjies nog opgewonde kan raak oor goed wat vir ons alledaags is. Dit was ’n lang dag gewees met letterlik hitte, koue, reën en weer hitte en toe wind! Teen laat skemer het ons begin kamp plek soek om die nag in die pas te oornag. Om ’n gelyke stukkie grond te soek in die pas is nogal moeilik. Die wind het vreeslik gewaai, maar dit was geen verskoning vir ’n lekker kuier om die vuurtjie nie. Die volgende oggend is ons vroeg terug in die pas, en voltooi hom so teen 12uur, net die regte tyd vir ’n slukkie sjampanje! Ons het die middag na die Maletsunyane watervalle toe gery, en kon weer die mooi natuurskoon bewonder. Die aand het ons terug na die kampplek in Ramabantha gegaan, waar almal ’n wel verdiende warm stort kon vat en goed kon uitrus voordat almal die volgende oggend elkeen in hulle eie rigtings huistoe gegaan het. En o ja, daar is goed “stock gevat" van al die voertuie se skrapies en skade (sommige met meer skade as ander), maar dis seker deel van die pret. Almal is huistoe met baie herhinneringe en natuurlik baie foto's..... Die vraag is nou, “SAL ONS DIT WEER DOEN”? Swaziland Regularity Raid 2010 - 23-25 April 2010 UMZUMO!! VERRASSING!! Ek glo dit is wat Swaziland uitgeroep het aan die besoekers tydens die jaarlikse Reg Raid. Met die wolke wat die hele Vrydag redelik laag en donker rondgehang het, moes ons seker verwag het dat Saterdag 'n bietjie "sports" kon oplewer. En dit het ook - met 'n hoofletter "S". Slegs twee voertuie het hier uit Piet Retief vertrek vir die lang pad ('n hele 72 km!) Ezulwini toe. Pierre en Faans het met Pierre se 105GX Cruiser gery, en Paul en Bester met Paul se 80 GXL Cruiser. Met inskrywings vanoor die hele land was ons verbaas dat daar so min belangstelling uit eie geledere was, en van die gereelde deelnemers het ongelukkig meer dringende sake gehad om na om te sien. Na registrasie en voeruigondersoek was ons gelukkig om albei onder die eerste tien weg te spring. Al het ons dit nog nie geweet nie, het 'Lady Luck' definitief breed vir ons geglimlag. Ons het Saterdagoggend wakker geword na goeie reën oornag, en met ongewoon goeie reën in die voorafgaande week of twee, het ons geweet - ons is in vir 'n ding! Die roete was sopnat, en die rivierkruisings was veral 'n handvol, selfs vir ons wat na aan voor weggespring het. Ons moes die lyne maar goed uitwerk, en die 4.5EFi Cruisers het meer as een keer die modder in boë laat vlieg. Gelukkig was dit nie een keer nodig om ons uit te sleep nie, want die herwinningsvoertuie was meestal Land Rovers gewees! Ons het goed gevaar, en tot by die derde 'marshal' of beheerpunt gekom, toe ons hoor dat die dag se roete gekanseleer is en dat ons almal terug moes keer na die kampeerterrein. Die roete het sodanig versleg met al die 4x4 verkeer dat daar voertuie is wat nie eers by die eerste beheerpunt uitgekom het nie. Effens teleurgesteld het ons maar die 'platpad' terug kamp toe geneem, maar was ook baie bly om 'n lekker koppie koffie te kon drink met aankoms. Dag twee het ons met lekker sonskyn begroet, en alhoewel dit later weer bewolk geraak het, het die reën weggebly, en kon ons die hele roete voltooi. Ook maar goed so, want aangesien ons op dag een voor in die ry was, moes ons volgens regulasies op dag twee die agterhoede dek. Die roete het geen drama opgelewer nie, en was amper vervelig as jy dit met die vorige dag vergelyk. Ons het darem ons 'reputasie' gestand gedoen, en albei Piet Retief se spanne het in die top tien geëindig - Paul en Bester was in die negende plek algeheel uit 65 inskrywings, en Pierre en Faans 'n skitterende agste plek algeheel, al was hulle navigasie soms 'onkonvensioneel'..... Baie dankie aan die Swaziland tak van FWDCSA - dit was weereens 'n groot sukses, en groot pret daarby. Ons sit op hete kole en wag vir die 2011 inskrywingsvorms. Piet Retief Stiptheidsuitdaging - 4 September 2010 Saterdagoggend het aangebreek, en ons het senuagtig gestaan en wonder of al die reëlings getref is, en of daar darem iemand gaan opdaag om deel te neem. Ons eerste 4x4 Stiptheidsuitdaging het aangebreek! Kort voor 8h00 het die terrein begin besig raak, en gou was daar vyftien spanne wat hulle inskrywingsvorms voltooi het. Met die geur van boerewors in die lug het ons vinnig aan die spanne verduidelik wat van hulle verwag word, en presies om 9h00 het die eerste voertuig weggespring. Met tussenposes van twee minute het almal in die pad geval, en dit was sommer gou duidelik dat die navigators 'n tydjie gaan neem om die roeteskedules onder die knie te kry. Dit het aanvanklik gelyk of die spanne op die vlug geslaan het soos wat elkeen sy eie rigting ry, maar kort voor lank het die roeteprentjies begin sin maak en was almal mooi op koers. By beheerpunt 1 was daar nog verwarring, met sommige spanne wat heeltemal te vroeg, of te laat, of glad nie daar aangekom het nie. Elke minuut vroeg of laat by die beheerpunt was 10 strafpunte werd, en as jy die beheerpunt heeltemal misry, het jy 250 strafpunte verdien. Hier het heelwat spanne erg slae gekry! Om die spanning 'n bietjie te verlig, kon almal vir 5 minute bene rek, waartydens een spanlid sy slag met 'n kettie kon wys en 'n paar bonuspunte insamel. Mens kon duidelik sien dat kettieskiet nie meer op almal se daaglikse program is nie..... Net om te sorg dat die spanne nie heeltemal ontspan het nie, het die roete se tegniese moeilikheidsgraad 'n bietjie toegeneem van hier af, met 'n redelike interessante donga binne 100 meter van die beheerpunt af, en heelwat meer 4x4 ry verder aan. Beheerpunt 2 was geleë by 'n rivierkruising, met 'n steil wal waar jy uit die rivier uit klim. Net bo-op die wal het André 'n 4 meter lange plastiekpyp in die bestuurder se hande gedruk, met die opdrag om die pyp deur 'n metaalring te steek. Daar was egter so 'n paar voorwaardes. Die voertuig moes beweeg, en die navigator moes die stuurwiel vashou. Opmerkings soos "Piece of cake, man" het vinnig verander in "Kan ek nie weer probeer nie!" wanneer die pyp se wiegende punt meerendeels die metaalring heeltemal misgesteek het. Dit was ook duidelik dat die navogators die roeteskedules onder die knie begin kry het, want hier was die strafpunte al reeds heelwat minder as by beheerpunt 1. By beheerpunt 3 was daar nie 'n bonusaktiwiteit nie, en van daar af was dit meestal grond- en teerpad terug na die eindpunt. Net toe die deelnemers dink hulle is klaar, moes hulle hoor dat daar nog twee bonusaktiwiteite by die eindpunt vir hulle wag. Die wipplank het vir 'n paar natgeswete voorkoppe en papnat broeke gesorg toe die navigator 'n plat plastiekbakkie vol water moes vashou terwyl die bestuurder moes sorg dat die voertuig so glad en rustig as moontlik oor die wipplank gaan. Dit is natuurlik haas onmoontlik, en menigte navigator het bitter min water oorgehad in die bakkie nadat die wipplank getip het. Die hoeveelheid water wat in die bakkie oor was het natuurlik bepaal hoeveel bonuspunte elke span gekry het. Hierdie was ook 'n gunsteling onder die toeskouers, en hulle skaterlag kon ver gehoor word elke keer as die water op die navigator se skoot beland. Na die wipplank was die blinddoekbaan aan die beurt, waar die bestuurder geblinddoek deur 'n afgebakende gebied moes ry terwyl die navigator hom moes lei. Elke keer as die grenslyne geraak is, het die bonuspunte minder geword. Nadat die somme gedoen is, is die wenners aangewys. Ons podium het soos volg daaruit gesien:
Die eerste (en enigste) vrouespan was Alida Pretorius en Anel Venter in 'n Toyota Prado met 205 punte. Hulle was vyfde algeheel. Hopelik sal daar meer vrouespanne wees by 2011 se Stiptheidsuitdaging. Aan al die deelnemers wil ons sê dankie vir die ondersteuning, en ons is trots op julle gedrag in die veld. Julle het die 4x4 gemeenskap se naam hoog gehou in 'n tyd waar ons as 4x4 entoesiaste maklik uitgekryt word as 'hooligans' wat nie omgee vir die omgewing nie. Baie dankie aan al die klublede wat baie ure afgestaan het met die roetebeplanning en al die ander reëlings. Julle skop gat! Dankie ook aan al die borge (al 25 van julle!) waarsonder hierdie byeenkoms nie moontlik sou wees nie. Ons waardering ook aan die grondeienaars, Uwe, Bobby, Fritz, Jaco en Bakkies, wat hulle plase beskikbaar gestel het vir ons om die roete op te doen. Hou maar ons program dop - die datum vir ons 2011 byeenkoms sal vroegtydig op die program bladsy verskyn! |
Stuur e-pos aan
info@pr4x4.co.za met vrae of opmerkings
oor hierdie webtuiste.
|