Tuisblad
Erekode
Nuus
Lede
Uitstappies 2011
Uitstappies 2010
Uitstappies 2009
Uitstappies 2008
Uitstappies 2007
Uitstappies 2006
Ander Takke
Terugvoer
Skakels

 

 

 


Roetes - 2011

Foto's en ander inligting oor die plekke wat ons besoek word hier vertoon. Kliek op die roetenaam om na die fotobladsy geneem te word.


 

PIET RETIEF 4x4 STIPTHEIDSUITDAGING

 

Daar laat die ou Landie toe die jakkals in die hoenderhok los!

 

Die Toyota manne sidder steeds na die uitslag van die 2011 Piet Retief Stiptheidsuitdaging. Ruan Brits en Hans-Dieter Niebuhr in 'n ou Series 3 Land Rover het almal uitgestof om die gesogte wennerstrofees te kon huistoe vat. Tweede was Gordon en Felicity Ingram van Johannesburg, en die derde plek het behoort aan Gerhard Smit en Philip Venter van Secunda. Slegs ses punte het die tweede en derde plekke geskei, en daar was slegs 10 punte tussen die vierde en sewende plekke, wat net bewys hoe straf die spanne mekaar opgedreun het.

 

Die eerste voertuig het om 9h00 weggespring, en die res het gevolg met 3 minute intervalle. Die spanne se navigasie was hierdie jaar aansienlik beter as verlede jaar, en die wenspan het slegs 91 punte teen hulle gehad. Met TWK Toyota se personeel by die eerste kontrolepunt, en die FWDCSA lede by die ander kotrolepunte het alles seepglad verloop, en die eerste span was omstreeks 12h20 terug by die eindpunt.

 

Almal het die roete geniet, en net begin ontspan toe die eerste voertuig met die 'bonusaktiwiteite' begin. Eers moes die spanne die Blinddoekbaan baasraak. Die bestuurder is geblindoek, en die navigator moes sorg dat hulle ongedeerd deur die afgemerkte baan kom. Daar het 'n hele paar sweetpêrels op die voorkoppe verskyn. Tweede was die Slapstokbaan, waar die bestuurder in die ry 'n lang, slap plastiekpyp deur 'n ringetjie moes druk, alles terwyl die navigator die stuurwiel vashou! Die derde bonusafdeling was ons berugte Wipplank. Die navigator moes 'n bakkie water op die skoot vashou terwyl die bestuurder probeer het om die wipplank so glad as moontlik te laat tip. Die resultate was deur die bank redelik chaoties, en die bakkie water was elke keer baie na aan leeg.....

 

Baie dankie aan al die deelnemers vir julle ondersteuning, ons hoop julle is almal volgende jaar weer terug met 'n paar vriende. Dankie aan TWK Toyota vir die borg van sommige van die pryse, asook die bemanning van die eerste kontrolepunt. Dankie aan Roy Slabber en Paul Mouton snr vir die trofees, Rudi Brits vir die tent, Excelsior Drukkers vir die pamflette en plakkate, en dan 'n GROOT dankie aan die lede wat die afgelope maande elke naweek besig was met die uitmerk van die roete, die reëlings en ook die werk gedurende die byeenkoms. Dankie mense, julle is staatmakers.

 

SANDSPRUIT PRETDAG - 26 Maart 2011

Die 4x4 entoesiaste by die Sandspruit Pretdag, anderkant Volksrust, het 'n paar 4x4 lesse geleer by Buffel, die
Hilux bakkie met die blou sakkie.
 
Ses van ons lede en hulle gesinne het op Saterdag, 26 Maart, die Sandspruit Pretdag bygewoon. Sandspruit is 'n paar kilometer anderkant Volksrust,
net duskant een van ons gunsteling bestemmings, Drie Provinsies, en hou jaarliks 'n 4x4 en motorfietsbyeenkoms.
 
Een van die meer ongewone 4x4 items op die program was 'n 200 meter 'drag-race'. Die baan was 'n skoongesnyde stuk oulandsgrasveld,
mooi afgebaken met varsgemaakte hooibale. Die deelnemers kon tot ses voertuie langsmekaar aantree, en wanneer die vlag geval het, het
hulle met 'n groot gedreun weggespring en oopketel afgestorm op die wenstreep. Daar was geen pryse te wen nie, maar 'n man se ego is
mos maar eenmaal daar om gestreel te word.....
 
Nadat almal goed opgewarm was, en mekaar goed opgedreun het, kon jy duidelik agterkom watter voertuie die top-naellopers was, en die
manne het breed geglimlag. En toe kom Buffel.

Discoveries, Cruisers, Navaras, Colts, Fords, en selfs 'n VW Touareg het hulle bes probeer, maar as Buffel se V8 gebrul het, het hulle almal stof
 geëet. Pierre is naderhand gevra om Buffel uit 4x4 uit te haal, en net met die agterwiele te stoot, maar selfs toe moes die ander manne handdoek ingooi.

 
Na die 'drags' is almal af spruit toe, waar die moddergate formidabele hindernisse opgelewer het. Milton met sy 'nuwe' 62-reeks Land Cruiser,
Pierre met Buffel die Hilux, Julie met die 105-Cruiser en ons twee pensioenarisse, Roy en Paul Snr, in Roy se Cruiser, het die gate aangevat
saam met 'n hele klomp ander 4x4 voertuie. Milton se Cruiser het nogal 'n hele klomp monde gesnoer, so sonder enige 'difflocks', en 'n paar van
die hindernisse lag-lag kafgedraf, terwyl die twee oumanne ook breëbors kan rondloop. Julie, oftewel 'Sonbrilletjies', het ook luide applous gekry
wanneer die Cruiser teen die modderwalle uitgebeur het. Buffel was egter ook hier koning, en het al die hindernisse na teerpad laat lyk.
Sommige van die voertuie het so erg vasgeval dat hulle deur twee ander voertuie of die groot Massey-Ferguson trekker uitgesleep moes word.
En lanklaas het die lug so dik gehang met die reuk van gebrande koppelaars.
 
Ons was Saterdagaand vroeg almal veilig terug by die huis, en moet die organiseerders van die Sandspruit Pretdag bedank vir hulle uitmuntende
poging. Sien julle volgende jaar!

 


 
Stuur e-pos aan info@pr4x4.co.za met vrae of opmerkings oor hierdie webtuiste.
Kopiereg © 2012 FWDCSA - Piet Retief
Laaste veranderings: 21/02/2012